Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
Die 50 Plus Klub
(Written by Lucas in 2004 for Amabokke)

Vra enige Suid Afrikaanse rugby speler wat sy doelwit in die lewe is en die onomwonde antwoord sal wees om vir die Springbokke te speel en so sy land te verteenwoordig. Daar is egter bitter min spelers wat die ongelooflike eer vermag om die groen-en-goud trui oor die kop te trek in 'n toets. Om dit vir 50 toetse te kan doen is 'n uitstaande prestasie.

Suid Afrikaanse rugby het 'n ryk en lang geskiedenis wat terug dateer tot die laat 19 de eeu en in die 113 jaar sedertien was daar al oor die 600 spelers wat hulle land in 312 toetse verteenwoordig het. Slegs 6 spelers het al vir 50 toetse of meer vir die Springbokke uitgedraf. Hulle is: Joost van der Westhuizen (89 toetse), Mark Andrews (77), Andre Venter (66), Percy Montgomery (57), Ollie le Roux (54) en Breyton Paulse (50). Os du Randt sal sy naam by hierdie uitsoek geledere voeg in die toets teen Engeland op die toer na Brittanje.

Daar is natuurlik verskeie redes hoekom die spelers in hierdie eksklusiewe klub slegs uit die moderne era dateer. In die ou dae was daar bittermin toets rugby gespeel, hoofsaaklik weens die feit dat toere nogal 'n lang storie was. Dan het twee wêreld oorloë 10 jaar se rugby beduiwel en vliegtuie was daar natuurlik nie en spanne het tot so onlangs as die sestiger jare met die boot oorsee gereis. Dit was juis op so 'n boot trippie dat die Springbokke hulle laaste Grand Slam gewen het in die1960/1 toer na Brittanje.

Nog 'n rede is natuurlik die 20 jaar van politieke isolasie toe die Springbok bittermin in aksie was. Dit het legendaries spelers soos Naas Botha, Danie Gerber, Carel Du Plessis en vele ander verhoed om menigte toetse vir hulle land te speel.

Die rekord houer, Joost van der Westhuizen is ook die grootste drie drukker van alle tye in die Springbok trui en die merkwaardige speler het vir meer as 10 jaar sy land trots verteenwoordig as speler en kaptein in 3 wêreld beker toernooie. Joost kon die mitiese 100 tal oorgesteek het was dit nie vir 'n paar ernstige beserings nie maar sy bydrae en rekords sal vir 'n lang tyd in Springbok legende bly staan.

Die ander spelers in die groep is almal manne wat ongelooflike bydraes gelewer het tot Springbok rugby. Mark Andrews was 'n wêreld beker en Drie Nasies wenner, Andre Venter was deel van 'n Springboks span wat 17 oorwinnings in 'n ry vermag het, so ook Ollie Le Roux. Percy Montgommery hou die rekord vir die meeste toets punte in 'n Springbok trui en Breyton Paulse is die eerste swart speler wat 50 toetse behaal het, hy het ook 'n Drie Nasies titel as deel van 'n merkwaardige en trotse nalatenis aan ander spelers van kleur.

Die moderne toets kalender verwag dat elke land ongeveer 10 toetse 'n jaar speel en met die wêreld beker elke vier jaar kan baie goeie spelers in 'n redelike kort tydperk 50 toetse inryg. Dit kling maklik maar die standard van die spel deesdae dikteer dat min moderne spelers 'n 10 jaar loopbaan kan volhou. Die wat dit wel regkry is met reg en wel verdiend legendes van wêreld rugby.