Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
Springbok Legendes Reeks: Brendan Venter
(Written by Lucas in 2002 for Amabokke)

Amabokke het gaan kers opsteek by een van Springbok rugby se uitgesproke wyse manne, Brendan Venter oor wat anders as, rugby?

Die jaar 2002 staan vinnig einde se kant toe en met die wete dat dit 'n bra onsuksesvolle jaar was is dit gepas om met een van Suid-Afrika se suksesvolste Springbokke te gesels, Brendan Venter.

Die dokter rugbyspeler van beroep is welbekend as 'n denker van die spel en deesdae bevind hy hom by een van Engeland se Premier Liga spanne, London Irish as afrigter en speler. Vra Brendan oor sy besluit om af te rig kom die antwoord vinnig, "Ag man, ek wou nog altyd afgerig het, as 'n speler het ek altyd 'n opinie gehad en dit was maar frustrerend dat in baie gevalle nooit daarna geluister is nie. Sekere goed wou ek graag geimplimenteer het en nou kon ek die kans kry.” Brendan het inderdaad die manne verlede jaar saamgesnoei in 'n hegte eenheid en hulle was die verassings paket van Engelse rugby.

Die jaar gaan dinge maar moeilik weens verskeie redes, dit het egter die jong afrigter die volgende belangrike rugby les geleer, “As alles goed gaan dink jy dat alles wat jy doen is reg en dit is die enigste manier en jy leer nie eintlik iets nie. As ek net een seisoen agter my gehad het sou ek gedink het dat dit maklik was en met 'n wanindruk van rugby teruggekeer het.” Dit lyk egter of sy span die seisoen begin draai het na 'n uitstekende oorwinning van 27-7 oor die gevreesde Leicester Tigers.

Dit is weldra Brendan se laaste seisoen en hy wil beslis na SA terug keer, “Ek mis die mense, die wat net wil loop en trek weet nie waarvan hulle praat nie. Die goeie goed weeg meer as die slegte goed.” Dit is duidelik dat Brendan veel eerder in SA 'n potjie wil kom skrop wat goeie nuus is vir die plaaslike ondersteuners wat so gewoond is aan spelers wat SA verlaat.

Die groot vraag of Brendan gaan betrokke raak by afrigting in SA, miskien die Springbokke, word kragtig beantwoord, “Ek sal betrokke wil raak maar dit sal op my terme wees, ek is nie genoop vir 'n werk nie, ek gaan terug praktyk toe maar dalk by 'n span soos die Maties waar die ouens nog jonk is. My filosofie is nog steeds dat rugby geniet moet word.” Ware woorde van Brendan en een van die belangrikste elemente van die wonderlike spel.

Die Europese toer is nou geskiedenis en op almal se lippe is die vraag of SA die wêreldbeker kan wen? Die dokter se raad is, “Ek het nou al twee wêreldbekers gespeel en glo maar vir my jy het so baie geluk nodig om uiteindelik te wen. Jy moet drie wedstryde teen die top 5 in die wêreld wen en soos dinge deesdae gaan kan niemand voorspel wie sal wen as dié spanne mekaar pak nie. So baie hang af van die skeidsregter en die bons van die bal.” Brendan is egter positief en glo, “SA het baie goeie spelers op die oomblik en het nog altyd gehad, hulle is talentvol maar die groot ding is dat die regte mense gekies moet word, kinders kan nie 'n man se werk doen nie!”

'n Interesante man die rugby dokter en een wat diep oor die spel dink maar een van sy belangrikste en beste eienskappe is sy entoesiasme vir die spel en sy motiverings vermoë. SA kan beslis baat vind by die terugkeer van Brendan Venter.