Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
Springbok Legendes Reeks: Die Legendariese Frik du Preez
(Written by Lucas in 2004 for Amabokke)

Springbok rugby het al deur die eeue menigte spelers van wêreld gehalte opgelewer, spelers wat wyd en suid verhemel is vir hulle legendariese dade op die veld. Onder die bestes van die beste is daar egter een speler wat selfs in hierdie uitstaande groep homself onderskei het as 'n reus in Suid Afrikaanse en wêreld rugby - Frik du Preez, Springbok speler van die twintigste eeu.

Frik, is in die Rustenburg distrik van die ou Wes-Transvaal gebore en het as jong seun glad nie rugby gespeel nie, dit was sokker en atletiek wat sy aandag gehou het. In hoërskool op Standerton het hy uiteindelik die spel aangeneem maar met sy natuurlike vaart is hy op heelagter, losskakel en vleuel ingespan. Na skool is hy na die Lugmag in Pretoria en hier het hy in beskeie omstandighede vir die O/19D-span begin speel hy het egter van posisie verwissel na slot. Die volgende jaar het Frik vir die eerste keer sy provinsie, Noord-Transvaal verteenwoordig en was hy ook kaptein van die O/19’s.

'n Groot oomblik in die jong speler se loopbaan was toe hy in 'n voorwedstryd vir die Springbokke op Ellis Park uitgedraf het in 1955. Die beroemde ‘Jack van der Schyff toets’ was Frik se eerste kennismaking met 'regte' Springbokke en dit het ongetwyfeld 'n blywende indruk gemaak en 'n ambisie aangewakker.

In die laat vyftigs was daar baie goeie slotte, nie net in Noord-Transvaal nie maar ook in die land en dit het Frik 'n paar jaar geneem om sy merk te maak maar in 1958 is hy vir die eerste keer vir die ‘Blou Bulle’ gekies en soos hulle sê, die res is geskiedenis. Die 1960 jaar het Frik teen die ou ‘vyand’, die All Blacks spel van sulke hoogstaande gehalte gelewer vir onder andere die Gekombineerde Magte en Noord-Transvaal dat die Springbok-keurders hom nie kon igonoreer nie. Toe die toerspan na Brittanje aangewys is op die 27ste Augustus, was Frik se naam in die span en so het 'n legendariese Springbok loopbaan begin.

Frik het in 38 toetse en 87 wedstryde vir die Springbokke gespeel wat vir jare as rekord gestaan het in 'n tydvak waar daar nie elke jaar toetse gespeel is nie. Sy rekord is vanselfsprekend en sy bydrae tot die Springbokke se sukses in hierdie jare was allemintig. Statistiek is 'n goeie maatstaaf maar soos almal weet vertel dit nie 'n storie nie.

Frik du Preez is veel meer as 'n briljante rugby speler wat die Springbokke met eer verteenwoordig het. Die man het met sy persoonlikheid en wonderdade vriend en vyand verras en is ongetwyfeld 'n wonderlike ambasadeur van sy land en sport. In sy dae het die Bokke vir maande getoer en daar was baie tyd vir vermaak en poetse bak en saam met maats soos Mof Myburg en Piet Uys is daar wonderlike stories te vertel.

Dit was veral Frik se ‘laid back’ gesindheid wat baie maal die keurders vererg het en hy is 'n paar keer uit die span gelaat veral vir opmerkings soos, ‘Ag wel, dis beter as om te werk!’ toe die Springbokke op toer verloor het (Dit het maar min gebeur en was daarvoor 'n groot storie!). Hy was ook berug vir min oefen maar sy ongelooflike natuurlike talent was genoeg om uit te staan op die veld. Van sy teenstanders, soos Colin Meads het juis opgemerk dat as hy meer toegwyd was hy selfs nóg beter kon gewees het.

Die groot Noord Transvaler besit 'n spesiale plek in meeste ondersteuners se hart, die man wat kon ‘drop, place en score’ was Springbok rugby se superster en vandag nog is hy die verpersoonliking van rugby in sy era. Daar is min twyfel dat hy in die moderne spel ook sy merk sal gelaat het maar dalk meer as 'n flank. Sy rugby brein, spoed en uitstekende hanterings vermoë oorbrug enige era.

Frik du Preez was ongetwyfeld Suid-Afrika se beste speler van alle tye en sy naam is sinoniem met legendariese dade. Hennie Viljoen, sportjoernalis het dié man so beskryf, 'Frik. Ou Frikman. Frikkie. Groot Frik. Die bekendste Frik wat dié land nog geken het.' Oom Frik is volksbesit.