Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
Springbok Legendes Reeks: Hakers is Anders - Uli Schmidt
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)

Die moderne no 2 moet veel meer kan verrig as om net bloot eenvoudig te hak, skrum en balle by die lynstane in te gooi. Nee wat, daardie dae is verby, hakers moet kan drieë druk vanuit die vleuel posisie, delikate skoppies uitvoer, pypkam en fop maar ook bo-oor opponente stoomroller. Kom ons noem dit die Renaissance man posisie in rugby. Argumentshalwe het een man die ommeswaai bewerkstellig - Uli Schmidt.

Dok Craven was van mening dat gene 'n belangrike rol speel in die ontwikkeling van 'n goeie rugbyspeler, of te wel soos hy op onmiskenbare manier verwys het, 'n voetballer. Uli se vader, Louis was bekend as die oorspronklike Blou Bul en ook 'n Springbok in twee toetse, die rugby band was heg en dis geen wonder Uli het Springbok geword nie.

Die tagtigers was die WP/Noord Transvaal era en Uli het die ligbloues met eer in 136 wedstryde verteenwoordig, toetse was egter skaarser as hoendertande. Die Nieu-Seeland Kavaliers, 'n rebel All Black span het in 1986 op Afrika bodem geland en alhoewel die reeks nie offisiële sanksie geniet het nie, het ondersteuners die eerste keer in tien jaar weer die manne van die Silwer Varing te siene gekry.

Uli het sy toetsbuiging op Nuweland gemaak in tipiese koue, nat weer , die Springbokke het 21-15 geseëvier danksy 'n briljante Carel Du Plessis drie en ook die reeks 3-1 verower. Die span het ongelooflike talent besit maar ongelukkig was verdere toetsrugby vir meeste van hulle onbeskore. Uli se Springbok betrokkenheid sou egter voortduur.

In 1989 het die Springbokke 'n Wêreldspan die stryd aangesê en Uli het weer eens die haker posisie ingeneem. Die twee toetse was naelbyt affêres en die krake van isolasie het begin wys maar met een van die sterkste plaaslike kompetisies in wêreld rugby, die Currie Beker, was min bekommerd oor die toestand van die spel.

Politieke ontwikkelinge het dit moontlik gemaak vir rugby om uit die wildernis terug te keer en met tipiese bravado is wedstryde teen die All Blacks en Wallabies op agtereenvolgende naweke gereël. Die eerste wedstryd op Ellispark was so naby maar tog so ver, twee van die wêreld se beste hakers het mekaar die dag die stryd aangesê, Sean Fitzpatrick en Uli.

Die twee manne sou onder ander omstandighede veel meer as net die een keer in 'n toets ontmoet het. Beide was meesters van hulle posisie met die enigste verskil Fitzpatrick se ongelooflike manipulasie vermoëns. Die wedywering kon tot 'n Meads/Du Preez tipe sage gelei het.

Verdere toetse het gevolg maar beserings het verhoed dat Uli in al die wedstryde speel en na 'n briljante jaar in 1994 met Transvaal moes hy weens mediese advies uit rugby tree. Die wêreldbeker was ongelukkig een hekkie te ver en die kompetisie is beroof van een van die beste spelers van sy generasie.

Uli het 17 toetse en in 8 Currie Beker finales gespeel en dit was tydens die tipe wedstryde en toetse wat sy formidabele talent tot beste uiting gekom het. Hy het met volle oorgawe gespeel en sy liefde vir die spel is kenmerkend met sy betrokkenheid as spandokter vir die huidige Springbokke. Uli Schmidt - 'n ‘anderse’ haker en Springbok legende.