Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
 
Briljante Springbok Driëe Reeks: James Small vs Skotland 1997
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)

Die trotse annale van Springbok rugby is deurspek met uithaler driëe waarvan elke groenbloed ondersteuner die intieme details van sy gunsteling poging beter onthou as sy huweliks herdenking. 'n Beroemde drie wat miskien nie onthou sal word as die skouspelagtigste van alle tye nie maar breëbors staan in Springbok geskiedenis is James Small se rekord brekende 20ste toets drie op Murrayfield..

In 1997 was Springbok rugby in 'n penarie na reeks nederlae teen die All Blacks en Britse Leeus en 'n swak Drie Nasies kompetisie waar die enigste oorwinning 'n goeie loesing van Australië op Loftus was. Carl Du Plessis is afgedank en Nick Mallett was getaak om die Springbokke vir 'n 5-wedstryd toer na Europa te brei.

Die toerspan het bestaan uit 'n kombinasie van penkoppe, 'n gerespekteerde kaptein in Gary Teichmann en Wêreld Beker wenners soos Os du Randt, Mark Andrews en die toets rekordhouer, James Small. In die eerste toets teen Italië het dit vanuit die staanspoor duidelik geblyk dat dié Bok-span met 'n giftige agterlyn en stewige voorpelers lus was vir aanval, net selfvertroue het gekort. Die volgende twee toetse teen Frankryk het bekers vol selfvertroue anngebring, veral die briljante 52-10 oorwinning in Parys wat argumentshalwe een van die beste vertonings in Springbok geskiedenis was.

Op Twickenham is Engeland in 'n taai stryd geklop met die hulp van 'n uitstekende drie deur André Snyman en die Bokke het binne 4 wedstryde ontwikkel in 'n span wat met geweldige flair en passie, hardloop-rugby van hoogstaande gehalte kon opdis. Pieter Rossouw, Percy Montgomery en James Small het in 'n dinamiese driemanskap ontwikkel wat spanne vanuit hulle eie helfte aan flarde kon hardloop. Daar het een struikelblok voorgelê, die vurige Skotte op Murrayfield in die ysere koue van Desember.

James Small het met twee driëe teen Italië en een teen Frankryk stadig nader gekruip aan die beroemde Danie Gerber se 19 toets driëe en in sy 47ste toets het sy totaal op 18 gestaan. Die Springbokke het teen verwagting in eers in die tweede helfte die Skotte oordonder met 'n blitzkrieg van driëe waarvan een James se 19de was. Die prag vertoning van krag rugby was een te veel vir die bleekbene en die een drie na die ander is ingeryg. Soos te wagte het die driemanskap gebaljaar met die kwaliteit bal tot hulle beskikking. Monty was die beste speler op die veld en die jong blondekop het gesorg vir een van die hoogtepunte in 'n vertoning van uitstaande hardloop-rugby en 'n stukkie geskiedenis op die koop toe.

Die voorspelers het die hele wedstryd kwaliteit balbesit verskaf en laat in die tweede helfte het dinge nie veel verander nie en na 'n goeie losgemaal is die bal vinnig wyd gespeel. Monty het in die lyn gesny soos hy die hele toer vermag het en met geweldige vaart na die oop doellyn versnel. Langs hom was James Small. Met 'n wye glimlag en 'n fyn aanvoeling vir sy spanmaat se posisie in Springbok legende het Monty die bal laat loop en aan James sy 20ste en rekord-brekende drie op 'n skinkbord gegee met 'n ongelooflike onselfsugtige daad van kameraadskap.

Kort na dié drie het James die veld verlaat. Dit was sy laaste toets in sy geliefde groen-en-goud en met sy makker se hulp het hy Springbok rugby as die rekordhouer in toets- driëe en verskynings vaarwel toegeroep.