Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
Springbok Legendes Reeks: John Gainsford
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)

Een van 'n Springbok afrigter se grootste kerswense van Sinterklaas is 'n speler van ware wêreldgehalte. Ons praat nou van daai manne wat hulleself kies in enige Jan Rap en sy maat se “beste van sy generasie” span. Dié tipe speler word natuurlik nie onder elke kalkoen uitgebroei nie maar maak elke nou en dan sy opwagting. Een só “grote”, John Leslie Gainsford het vroeg in die jaar 1960 op die jeugdige ouderdom van 21-jaar na vore getree en hom gevestig as 'n Springbok legende.

John het vroeg in sy lewe 'n absolute passie vir rugby ontwikkel nieteenstaande hy by een van die minder bekende rugby skole, Landsdowne High School in Kaapstad skool gegaan het. As 16-jarige het hy by die beroemde Villagers klub aangemeld en onmiddelik plek gekry in die onder-19 C-span as senter. Die volgende jaar was hy in die A-span, onthou hierdie was die tydperk van klubrugby en 'n speler moes sy pad oopspeel na groter dinge. Senior klubrugby het spoedig gevolg en hy het mettertyd onder die aandag van die provinsiale keurders gekom. Op 19-jarige ouderdom, in 1958 maak John sy Westelike Provinsie debuut teen Boland op Wellington weens die afwesigheid van verskeie WP Springbokke wat die dag teen Frankryk kragte gemeet het.

Groot en sterk tog geseën met geweldige vaart wat hom die 100 treë in 10.3 sekondes laat aflê het, het van John 'n uiters moeilike opponent gemaak en in sy tweede jaar van provinsiale rugby was hy een van die beste senters in die land. Hy het sy Junior Springbok kleure in 1959 verwerf en sy eerste proe-slag van internasionale rugby gekry in 'n toer na Argentinië. Daardie dae is met die boot gereis en toer was 'n geheel en al anderse ervaring wat die sterk karakters na vore gebring het en so is die beroemde Springbok gees geslyp wat baie spanne to oorwinning gedra het.

Die grootste jaar van die jong man se lewe en ongetwyfeld een van sy trotste oomblikke was toe hy gekies is vir Des van Jaarsveldt se Springbokke teen Skotland vroeg in April van 1960. Die keurders het besluit dat met die aangewese toer van die magtige manne van Nieu-Seeland daar so vroeg as moontlik span gebou moes word. Die Skotte is maklik afgeransel en soos menigte debutante kon John maar min van sy eerste toets onthou, dit was egter 'n totale ander storie teen die uitstekende 1960 All Blacks wat manne soos Don Clarke, Wilson Whineray, Kelvin Tremain en ene Colin Meads ingesluit het. Die Springbok afrigter vir die reeks was Hennie “Windhond” Muller, legendariese agsteman en kaptein wat in 1949 die All Blacks verneder het.

Die Springbokke het die eerste toets 13-0 beklink maar soos gewoonlik die geval teen die All Blacks, die tweede verloor op John se tuisveld, Nuweland. Die reeks was meedoënloos met die derde toets gelykop maar in die finale stryd het die Springbokke met 8-3 geseëvier en John was midde een van Suid-Afrikaanse rugby se goue tydperke. Later die jaar het 'n hoogs suksesvolle toer na Europa gevolg waar die enigste nederlaag teen die beroemde Barbarians was. Dié span was een van die heel beste waarin John gespeel het en het mede-legendes soos Jannie Engelbrecht, Mannetjies Roux, Mof Myburgh en die Springbok speler van die eeu, Frik Du Preez ingesluit. Suid-Afrika het met spelers van wêreldgehalte gespog en John was 'n ster.

Vir 'n jong speler het John vinnig die hoogste sport bereik maar soos menigte weet is dit moeiliker om die standard te handhaaf oor 'n gegewe tydperk. Hy was egter uit die regte stoffasie geskape en het in 33 van die volgende 34 Springbok toetse gespeel, die enigste uitsondering 'n wedstryd teen die Iere op Nuweland in 1961. Later sou John teen elke toets spelende nasie uitdraf ingsluitende die Leeus van 1962, wat lelik op hulle baadjie gekry het en seker die hoogtepunt van enige Springbok se loopbaan, 'n toetsreeks in Nieu-Seeland gedurende 1965.

Sy laaste toetsreeks was teen die Franse span van 1967, waartydens hy vir die eerste keer in sy loopbaan uit 'n span gelaat is na die derde toets nederlaag op Ellis Park. 'n Paar maande later het hy op 29-jarige leeftyd rugby, as speler, vir ewig vaarwel toegeroep maar hy sou wel later sy merk maak as afrigter en keurder.

John Gainsford het 33 toetse vir die Springbokke gepeel en 7 drieë gedruk, op daardie stadium beide rekords in die groen-en-goud en hy hou nog steeds die tweede meeste toets verskynsels op senter na Pieter Muller. Dié man was inderdaad 'n rare speler van wêreldgehalte en ongetwyfeld een van die grootste Springbok legendes van alle tye.