Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
“parys pardys”
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)

Baie van ons het grootgeword sonder om die geliefde Springbokke in aksie te sien, die 1981 toer teen die All Blacks was 'n eerste rugby geheue en die rare verskynings daarna het Halley se komeet soos 'n uitgekuierde buurman laat voorkom. Dit is dus taamlik maklik om oor gebeure van ware betekenis te besin.

Die waterskeiding jaar van 1992 het 'n oud en nuut spil in ons rugby geskiedenis tot gevolg gehad. Uitgediende maar onvergeetbare redes het die Springbokke weerhou van internasionale meedinging maar soos Moses, is daar teruggekeer uit die woestyn en met 'n magtige vertoning is die wêreldbeker in 1995 verower. Die triomf was van korte duur, in 1996 het 'n briljante All Black span hulle eerste reeks oorwinning op SA bodem vermag. In 1997 het die Britse Leeus die Springbokke geklop met 'n tipiese hartverskeurende skepskop oomblik. Die Drie Nasies was nie veel beter nie en SA rugby was teen die toue soos 'n vuisvoos bokser.

Nick Mallett het die leisels oorgeneem vir 'n uitmergelende einde van jaar toer na Europa. Die toer program het gelees Italië, Frankryk x 2, Engeland, Skotland - almal op agtereenvolgende naweke in die bitter koue en reën van 'n tipiese Europese winter.

Italië was min van 'n hindernis maar die Franse, nog de bliksem in oor die 1995 halfeindstryd en 'n een punt nederlaag die vorige jaar het soos die Alpe voor Hannibal gestaan. Die Springbokke het in die eerste toets in Lyon met 'n skrale 4 punte geseëvier en die tweede toets is met hemelse afwagting begroet. Dit was ook die afskeids wedstryd vir die Parc des Princes, 'n Coliseum tipe arena waar niks die koue en lawaai kon uithou nie.

Die stryd was 'n connoisseur se droom, met karige respek vir hulle oponente se emosies, die glansryke geleentheid en rugby tradisie het die Springbokke klinies te werk gegaan en hulle eie geskiedenis uitgekerf. In 'n produksie van rare kwaliteit, ritme en vloei is die Franse stelselmatig verfrommel en verneder. Die spelers het individueel en as 'n span perfek gekombineer, selde indien ooit het 'n Springbok span só briljant gespeel!

Die Latynse humeure in die skare het vinnig opgevlam, eers is woedend kop geskud, daar is geskree, gevloek en hulle span is halftyd oppad na die kleedkamers uitgejou. Die emosies het egter in 'n kort tydperk verwissel in bewondering, ongeloof en absolute ekstase. Elke aangee en wonderbaarlike beweging is later met 'n harde ‘Olé’ begroet, die uiterste kompliment is betoon en waar anders as in Parys kon die asemrowende spel, die prag van 'n volmaakte vertoning beter waardeer word? Ten spyte van die sportiewe Franse waardering was dit die grootste nederlaag in hulle rugby geskiedenis.

Dit is debateerbaar maar dié vertoning was die katalisator vir 'n verdere dertien oorwinnings, 'n Drie Nasies kroon, 'n wêreld rekord en Nick Mallett het die tweede suksesvolste Springbok afrigter van alle tye geword.

Breyten Breytenbach het die volgende oor Parys gedig;

parys
pardys
maar tuis is paradys

Dié dag was die Springbokke, tuis in Parys.