Briljante Springbok Driëe Reeks: Pieter Hendriks vs Australie 1995
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)
Pieter Hendriks in 1995 teen Australië - ‘Hier is spoed dames en here!’
Springbok rugby en 1995 - elke volbloed ondersteuner het 'n persoonlike herinnering van euforie as daar teruggedink word aan dié historiese jaar in Suid-Afrikaanse rugby. Meeste sal die gebalde vuiste van Nelson Mandela en Francois Pienaar met die Webb Ellis trofee omhoog nooit in der ewigheid vergeet nie. Die onskatbare oomblik was grootliks te danke aan 'n gebeurtenis 'n maand vroëer op 'n pragtige winters middag teen die Wallabies in die openingswedstryd van die 1995 Wêreldbeker.
Australië, houers van rugby se Heilige Graal het met 'n span legendes op Nuweland toegesak, die kaptein was Michale Lynagh, wêreld punte rekordhouer, John Eales, latere inspirerende kaptein op slot, Tim Horan die briljante senter en op vleuel, die legendariese David Campese. Campese was 'n genie, min wat sy wonderdade op die veld al aanskou het sal die feit betwyfel of bestry. Die man se instink was aanval en hy het dit met 'n repertoire van fop, fnuik, hinkstappe en geweldige vaart laat maklik lyk en op sy dag sonder 'n gelyke tussen die vier witgekalkte lyne.
Die Wallabies was vol selfvertroue, dalk 'n titseltjie te veel maar om op die hogere vlak sport suksesvol te beoefen is selfvertroue onontbeerlik. Min het hulle geweet dat die gedugte Kitch Christie met amperse maniese presiesheid sy span voorberei het vir die kompetisie.
Die Springbokke was ongelooflik gemotiveer om aan die wêreld te bewys dat geen wêreldbeker toernooi sonder Springbok rugby as sulks beskou kon word nie. Die idiale teeanstanders was dus juis die huidige kampioene, bygesê die fantastiese ondersteuning wat gegenereer is met die ‘een span een nasie’ slagspreuk het die vyftien manne met 40 miljoen mense se wilskrag gevul!
Die wedstryd was 'n waas en is teen 'n geweldige tempo gespeel, Australië het met kenmerkende astrantheid begin, hulle was uiteraard die kampioene en na 30 minute het Lynagh gaan druk en het dit gelyk of die Springbokke oorrompel sou word. Helaas nie dié Saterdag nie! Wat gebeur het skuins voor halftyd het die volgende maand vergestalt vir beide die merkwaardige span en die fanatiese reënboog nasie ondersteuners.
Die Springbokke het besit vekry in hulle helfte en James Small, die vurige regtervleuel het die bal goed gedra oor die middellyn en toe laat loop na James Dalton wat op sy beurt vir Mark Andrews gevoer het en hy het 'n losskrum afgedwing. Die Springbok voorspelers het soos huisvrouens by 'n uitverkoping ingeboender en die bal beskikbaar gestel vir die wagtende agterlyn. James Small het weer hanteer, die keer aan die linkerkant van die veld en die bal na Pieter Hendriks aangegee.
Gerhard Viviers het altyd gesê, “hier is spoed dames en here!” en Pieter Hendriks het die bal onder sy linkerarm gedruk en met geweldige vaart op David Campese afgesak. Op die laaste nippertjie het Pieter 'n volmaakte binne buite swenk uitgevoer wat Nuweland aan Carel Du Plessis laat dink het om verby die legende te nael vir een van die beste en belangrikste driëe van sy loopbaan. Die gebalde vuis was al wat Campese kon onthou en daarmee was die tafel gedek vir 'n Springbok oorwinning. Joel Stransky het die dag die res gedoen nes hy op die 24ste Junie 1995 homself in rugby legende geskepskop het.
Die een oomblik van Hendriks-briljantheid was die katalisator vir 'n Springbok sege in die wêreldbeker en een van die mees belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van 'n Nuwe Suid-Afrika.