Copyright © 2001 - 2013 Rugby Forum.  All rights reserved.                                                      
Tiaan Strauss
(Written by Lucas in 2003 for Amabokke)

Losvoorspelers is 'n unieke spesie in rugby, van hulle word verwag om in die donker kolke van losgemale balbesit vir die span te verseker en wanneer die nimlike takie volmag is, die bal te jag soos 'n Boesman sy prooi op die vlaktes. Verder moet hulle met vreeslose durf opponente kan lak en ook skakel met agterspelers, in kort hulle moet gehard wees! 'n Speler wat al hierdie eienskappe vir die groen-en-goud ten toon gestel het was Tiaan Strauss, die Leeu van die Kalahari en legendariese Springbok kaptein, agsteman en flank.

Na die Springbokke se hertoetrede tot toetsrugby in 1992 het Tiaan sy debuut gemaak in die eerste toets teen Frankryk in Lyon. Die Springbokke het met 20-15 geseëvier en oorwinning was soet maar die res van die toer was onsuksesvol en na 'n rekord nederlaag teen Engeland op Twickenham was dit duidelik dat Springbok rugby erg geknou is deur isolasie.

Die jaar 1993 het sleg begin met die afsterwe van die patriarg van SA rugby, Doc Craven. Die Franse het kom toer en die nuutgestigde SARFU het 'n nuwe afrigter, Ian McIntosh aangestel en 'n nuwe kaptein, Francois Pienaar is verkies. Die besluit was 'n groot teleurstelling vir die seun van Upington wat WP met onderskeiding gelei het.

Die Franse het 'n reeks oorwinning behaal en met Springbok rugby op 'n laagtepunt het die span vetrek op 'n toer na Australië, 'n land wat later 'n groot rol in Tiaan se lewe sou speel. Hier het dinge verbeter met 'n briljante Springbok oorwinning in die eerste toets. Tiaan, met sy stormlopies was inspirerend op agsteman en Joel Stransky briljant op losskakel.

Die Australianers het egter in die tweede toets bewys waarom hulle met afrigter, Bob Dwyer die Wêreld Beker verower het. MacIntosh, in sy boek verduidelik dat hy ge “out-coached” was, Strauss is deur Ilie Tabua geneutraliseer en die spelpatroon kon nooit aan die gang kom nie en om dinge te vererger is James Small afgestuur. Die derde toets het ook in 'n nederlaag geëindig en die Springbokke het die reeks verloor.

Aan die einde van 'n lang 1993 seisoen het die Springbokke 'n kort toer na Argentinië meegemaak waar die berugte “Slag van Tucuman” plaasgevind het. Tiaan was kaptein in hierdie wedstryd waar Springbok rugby uit die as opgestaan het. Die spelers het met die vuisgeveg van 'n wedstryd provinsialisme vergeet en saam as Springbokke gestaan.

Die hoogtepunt van 1994 was ongetwyfeld die toer na Nieu Seeland maar eers het 'n goeie Engelse span onder Will Carling kom toer. Met 'n Rob Andrew rekord poging het Engeland aan die jong Springbokke bewys dat hulle nog groentjies in die internasionale arena was. Die Springbokke het 'n week later wraak geneem op Nuweland met 'n uitgemete oorwinning,

Die Nieu Seelandse toer was een van die mindere suksesvolle besoeke aan dié land. 'n Swaard het oor MacIntosh se kop gehang, daar was beserings probleme, die Johan Le Roux/Sean Fitzpatrick oorbyt insident het soos 'n stank gekleef en daar was ook keuring flaters. Tiaan is aangewys as flank en kaptein in die eerste toets in Dunedin maar die All Blacks het met tipiese drukrugby die toets gewen. Die tweede toets in Wellington was 'n baie beter wedstryd maar weereens het die onervare Springbokke verloor, Tiaan is uitgelaat vir die gelykop derde toets.

Aan die einde van die toer het MacIntosh sy beroemde faks ontvang van Louis Luyt en Kitch Christie is aangestel met die oog op die Wêreld Beker. Die eerste Argentynse besoek aan Suid-Afrika het aan die einde van 1994 plaasgevind en Tiaan het in beide toetse gespeel wat die Springbokke maklik gewen het. Op hierdie stadium het hy nog nie geweet dat hy sy laaste toets vir die Springbokke gespeel het nie.

Die gebeure van 1995 het Tiaan Strauss geruk, Kitch Christie moes 'n moeilike besluit neem oor die samestelling van die Wêreld Beker groep. In wat kan bestempel word as 'n “besigheids beslissing” het hy Strauss uit sy groep gelaat en die algemene gevoel was dat hy onder geen omstandighede Pienaar se leierskap onder druk wou plaas nie. Meeste mense het geweet Strauss verdien 'n plek in die groep maar Christie was 'n man met 'n onwrikbare wil en die eienskap het bygedra tot dié span se sukses in die kompetisie.

Tiaan, ontnugter deur sy uitsluiting van die Springbok Wêreld Beker groep het aanbiedinge uit beroeps rugby, Rugby Liga aanvaar en verhuis na Sydney waar hy later 'n uiters suksesvolle terugtrede tot rugby gemaak het maar onder die kleure van Australië, sy aangenome land. Later, in 1999 was hy deel van die Australianers se Wêreld Beker sukses en so 'n legende en hoogs gerespekteerde speler vir beide die groen-en-goud en die goud-en-groen.